GESKIEDENIS VAN FORT SCHANSKOP

GESKIEDENIS VAN FORT SCHANSKOP

DIE FORTIFIKASIE VAN PRETORIA

Na die mislukte Jameson-inval van 1896, het L Grunberg, ’n voormalige Franse artillerie-offisier, by die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek aanbeveel dat Pretoria met forte versterk moet word.

Sy aanbeveling is ter harte geneem, veral aangesien ’n kaart met al die ZAR se toegangsroetes, spoorverbindings en verdedigingstellings in die besit van ’n Britse offisier gevind is. Grunberg was verantwoordelik vir die beplanning en bou van Fort Daspoortrand en twee Duitse ingenieurs, OA von Dewitz en HC Werner, het die planne vir drie ander forte opgestel, naamlik Fort Schanskop, Fort Klapperkop en Fort Wonderboompoort.

Staatspresident SJP Kruger het die planne op 16 Maart 1896 goedgekeur en ’n kommissie is benoem om toesig oor die bouwerk te hou: kmdt.genl. PJ Joubert, lt.kol. HPN Pretorius, kapt. PE Erasmus, kapt. FJ Wolmarans, lt. PC Paff en stadsingenieur E Lutz.

FORT SCHANSKOP WORD GEBOU

Die Duitse firma Krupp het die drie forte van Schanskop, Klapperkop en Wonderboompoort gebou. Fort Daspoortrand is deur die Franse firma Schneider, Grunberg en Léon gebou.  

In Mei 1896 het die kontrakteur HC Werner met die bouwerk aan Fort Schanskop begin. Die arbeidsmag het uit meer as 400 wit en swart mense bestaan wat dag en nag gewerk het. Dit verklaar dan ook waarom die fort reeds in Desember 1896 beman kon word deur ’n luitenant en bykans 50 manskappe, al was die bouwerk nog nie heeltemal afgehandel nie. Schanskop is strategies só geplaas dat veral aanvalle uit die rigting van Johannesburg daarvandaan afgeweer kon word. Hierdie vyfhoekige fort kon met geskut op draaiplatforms op die fortwalle ook aanvalle uit ander rigtings afweer.  

Fort Schanskop is amptelik op 6 April 1897 deur die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek oorgeneem, en is die volgende dag deur president SJP Kruger besoek.

BEWAPENING EN KOMMUNIKASIE

Terwyl die forte in aanbou was, is die nodige geskut bestel. Dit was bergartillerie, wat ’n verstandige keuse was, want die kanonne sou later uitstekende diens op die oorlogsfront verrig. Vestinggeskut sou slegs by die forte van nut kon wees.

In 1899 het Fort Schanskop oor een Schneider/Creusot 155 mm-beleëringskanon, ook genoem ‘n Long Tom, beskik en twee 37 mm Maxim-Nordenfelts, ook genoem Pom-poms, met 500 rondtes ammunisie. Die garnisoen het uit ’n offisier en 30 manskappe van die Transvaalse Staatsartillerie bestaan. Voorlopig was dit gewone artilleriste wat die forte beman het, maar 100 artilleriste het spesiale opleiding in die hantering van vestingartillerie ontvang. Tog was die bemanning en geskut nooit werklik voldoende nie.

Fort Schanskop was deur middel van bogrondse telegraafdrade met die artilleriekamp in Pretoria verbind en ook telegrafies met Johannesburg. Die onderskeie forte kon heliografies met mekaar in verbinding tree. Een van die fort se kasematte (bombestande vertrek) was spesiaal vir die Transvaalse Veldtelegrafie ingerig.

DIE INNAME VAN PRETORIA

Lord Roberts het Pretoria op 5 Junie 1900 ingeneem, sonder dat enige teenstand ondervind is. Geen skoot is vanuit die forte op die Britse magte afgevuur nie, aangesien die forte reeds ontwapen was.

Die eerste militêre trein, met ’n afdeling van die Staatsartillerie, het Pretoria reeds op 28 September 1899 verlaat en na die Natalse grens vertrek. Die afdeling het bestaan uit 60 man met 6 kanonne, 8 ammunisiewaens en 105 perde. Later, op 11 Oktober 1899, het ongeveer 400 artilleriste onder bevel van kommandant-generaal Piet Joubert, die Natal-grens oorgesteek.

Op 4 Junie 1900 het die Britse magte die hele middag lank die forte om Pretoria gebombardeer, wat konsternasie in die stad veroorsaak het. Uiteindelik is net een man in elke fort aangetref om dit oor te gee. Fort Schanskop was ontwapen, aangesien die twee Maxims en die Long Tom intussen na die Natalse front verskuif is. Tydens die Britse besetting het die Britte die forte as kroonbesit beskou en dit deeglik beman en bewapen.