Die afgelope skoolvakansie het honderde leerders van oraloor kom kuier by die Voortrekkermonument (VTM) om aan ons opwindende opvoedkundige programme te kom deelneem.
Die Pioniersentrum by die VTM bied elke skoolvakansie hierdie programme aan en gee jongmense die kans om met verskeie lekker speel-en-leer-aktiwiteite hul geskiedeniskennis bietjie op te skerp.
Oor die afgelope paar weke het die VTM-personeel behoorlik uitgehaal en gewys en die leerders het hul gate uit geniet.
Marichen Laubscher, wat tans haar internskap by die VTM doen, het vanjaar hard saam met die res van die span gewerk om dié opwindende programme uit te werk en sê sy is baie opgewonde om te sien hoe die jongmense dit geniet het.
“Ons het baie hard gewerk om ’n lekker program uit te werk waarmee kinders kon leer in ’n lekker omgewing,” het sy vertel.
“Ons het die vakansie afgeskop met ’n heerlike, rustige natuuruitstappie en vandaar het die opwinding net meer opgebou. Hierdie vakansie het ons alles gedoen, van stokbrood bak in die Lewende Laer tot perdry in Fort Schanskop en dit was werklik een van ons mees suksesvolle vakansieprogramme tot op hede.”
Vanjaar was die vakansieprogramme reeds voor die vakansie al vol bespreek en dit het weer duidelik geword dat die VTM dié plek is vir families om hul kulturele erfenis te kom vier.
Simoné Cloete, hoofaanbieder van dié programme, het op haar beurt gesê dit is vir haar ’n riem onder die hart om te sien dat die Afrikaanse jeug steeds inkoop in hul kultuur en geskiedenis.
“By die VTM wil ons graag ons geskiedenis laat voortleef en ons kulturele erfenis uitbrei, en hierdie vakansieprogramme gee my werklik hoop vir die toekoms van ons land,” het sy gesê.
“Hier by die Pioniersentrum bewys ons daagliks dat geskiedenis nie vervelig is nie. Dit is vir my absoluut wonderlik om te sien hoe leergierig hierdie jongmense is wanneer dit kom by hul eie geskiedenis.”
Met vanjaar se eerste vakansieprogramme het die jong besoekers perd gery, natuuruitstappies geniet, meer geleer oor die pionierskombuis en ook pionierskuns, soos die maak van kleiosse. Hulle het ook ’n dag op die plaaswerf spandeer en meer geleer oor al die diere en hoe om na hulle om te sien.
Die Voortrekkermonument verwelkom jaarliks duisende gesinne, skoolgroepe en toeriste by ons immergewilde Pionierswerf.
Die Pionierswerf bestaan uit die Lewende Laer, waar tradisionele Voortrekkeraktiwiteite lewendig binne ’n ossewalaer geïllustreer word, die Pioniersplaaswerf, met sy oulike werfdiere wat vertroetel en gevoer kan word, en die Pioniersentrum.
Die Pioniersentrum is ’n interaktiewe ontdekkingsentrum en ’n skatkis van waardevolle bykomende bronne tot die huidige KABV-uitkomsgebaseerde leerplantemas wat in Suid-Afrikaanse skole aangebied word. Daar word van oorspronklike voorwerpe, replikas, historiese foto’s, hedendaagse visuele materiaal en brokkies inligting gebruik gemaak om opvoedkundige temas op ’n kreatiewe manier vir opvoeders en leerders aan te bied.
Hierdie programme sluit ook toere van die Voortrekkermonument en Fort Schanskop in, en word ook aan die algemene publiek en toeriste in die vorm van interaktiewe, begeleide toere aangebied.
Daar word ook ’n wye spektrum gesins- en Voortrekkeraktiwiteite en vakansieprogramme by die Pionierswerf aangebied. Ons pasgemaakte partytjiepakkette is altyd ’n gewilde bespreking onder jonk en oud, en ondernemings van alle groottes, skole en kerke kan nie uitgepraat raak oor ons opwindende korporatiewe spanboupakkette nie!
Vir meer inligting oor al die opvoedkundige en vakansieprogramme by die Voortrekkermonument kontak gerus vir Lee-Ann by besprekings@kultuurtuiste.org.za of hou ons sosiale media dop vir toekomstige programme.