Die heel eerste Oppi’ Markplein familienaweek het op 1 Maart 2024 by die Voortrekkermonument op ’n kleurvolle noot afgeskop met ’n kleurpretloop.

Oor die naweek het honderde gesinne en families hul kultuur kom uitleef, saamgekuier en aan verskeie aktiwiteite en kompetisies deelgeneem.

Henk Maree van die Voortrekkermonument het tydens die fees gesê hy is baie dankbaar om te sien hoeveel mense nog die monument besoek en hoop dat die Oppi’ Markplein familienaweek net groter sal word in die toekoms.

“Ons het vanjaar besluit om ’n maandelikse familienaweek by die VTM aan te bied waar jonk en oud kan kom uitspan en hulself behoorlik kan kom uitleef in Afrikaans,” vertel hy.

“Ons het die naweek afgeskop met ’n rustige kleurpretloop Vrydagaand en na die tyd kon besoekers hiér op die Markplein lekker kuier, dans en die stalletjies besoek. Saterdag het ons oudergewoonte afgeskop met ’n parkrun en lekker aktiwiteite soos Boeresport en die Boer dra ’n vrou-kompetisie, wat ’n wegholsukses was. Ons Oppi’ Markplein familienaweek het klein afgeskop, maar ons is baie opgewonde om te sien hoe dié fees elke maand kan groei.”

Dit was ’n naweek vir baie eerstes met die eerste Boer dra ’n vrou-kompetisie wat in samewerking met Noongun aangebied is. Besoekers het in groot getalle opgedaag om hul staal te kom wys en te kompeteer vir lekker pryse.

Willie Landman, een van die deelnemers, het al die pad uit Benoni kom kuier en sê Oppi’ Markplein is ’n fees wat mens nie mag misloop nie.

“Ek kry min geleentheid om by die Voortrekkermonument besoek af te lê, maar die afgelope naweek het ek net weer besef hoe lekker dit is om hier mens se taal, geskiedenis en kultuur te kan uitleef,” sê hy.

“Dit was so lekker om hier op die monument se Markplein te kon kuier en te sien hoe die terrein al uitgebrei het sedert ek laas hier was, rustig hier te kon kuier en natuurlik ook te kon deelneem aan die aktiwiteite. Ek sal beslis meer mense aanraai om te kom.”

Saterdagoggend het nog honderde mense opgedaag vir die weeklikse parkrun. Cornell Viljoen gaan hierdie week oorsee en het besluit om sy laaste naweek tuis saam met sy familie by die Voortrekkermonument deur te bring.

“My broer wou hê ek moes al die aktiwiteite saam met hom doen. Ek gaan oorsee, daarom het ek gedink die Voortrekkermonument se familienaweek is die ideale plek om saam te kuier,” sê Viljoen.

Die volgende Oppi’ Markplein vind plaas op 5 en 6 April en die Voortrekkermonument hoop om sommer baie mense te ontvang. Jou vriendskap help ons om kultuur toeganklik te maak: www.vtm.org.za/donasies/.