Dit is ’n feit soos ’n (see)koei: Die hond is vir seker die mens se beste vriend. Só ook was die viervoetige vriende van die Voortrekkers destyds nie net bondgenote nie, maar ook jag- en verkenningsgenote. By die Voortrekkermonument (VTM) in Pretoria vorm vierpootgenote ’n integrale deel van die Kultuurtuiste se veiligheidspan.

In Februarie vanjaar het een van dié honde, die geliefde Koevoet, ’n boerboeltefie wat sedert April 2023 by die VTM is, ’n nuwe tuiste op die Bloedrivier-erfenisterrein gekry.

Judean Jansen van Vuuren, bestuurder van dié terrein, sê Koevoet het haar reeds tuisgemaak en geniet dit vreeslik op haar historiese nuwe erf aan die voet van Vechtkop.

“Koevoet is regtig ougat, sy is al reeds soos ’n kind op die Bloedrivier-erfenisterrein,” sê sy.

Om haar gewoond te maak aan die terrein, het Jansen van Vuuren besluit om haar vir die eerste paar weke in die erf by die huis te hou totdat sy aan die nuwe omgewing gewoond is. “Ons sien uit om een van die dae die 280 ha-terrein saam met haar te verken.”

Uit die Groot Trek-geskiedenis is daar baie staaltjies en verhale van die Voortrekkers en hul honde, daarom is dit baie spesiaal dat dié kameraadskap en vertrouensbande ook op die Monument- en Bloedrivierterrein gebou kan word.

In Op Trek skryf Celestine Pretorius van die lewe op trek en hoe honde hul eienaars in jagekspedisies bygestaan het.

Op die Tregardt-trek het Pieta Tregardt ’n noue ontkoming gehad toe sy vurige twee honde met ’n leeu slaags geraak het terwyl hy skape opgepas het.

Sélfs plekke soos Seekoeiwater het hul name te danke aan die Tregardts en hul honde se wedervaringe. Pretorius skryf hieroor: “Vir die juiste optekening van hul trekroete was plekname vir Tregardt belangrik … Dit was dus voor die hand liggend dat sommige plekke dierename sou kry”.

Drie seekoeie is volgens oorlewering by Seekoeiwater platgetrek waar Tregardt se honde twee hase in gate gejaag het. Tregardt kon glo nie besluit of die naam Hasekraal of Renosterpad moes wees nie, maar uiteindelik het die honde se manewales daartoe gelei dat die seekoeie gewaar is en só het dié pleknaam ontstaan.

By die Voortrekkermonument word die verhouding tussen man en dier ook mooi uitgebeeld op die friespanele in die Heldesaal, waar die argitek Gerard Moerdijk se eie hond, Leeu, op drie panele pryk.

Niemand weet werklik hoe die Voortrekkers se honde gelyk het nie, maar wel dat hulle troeteldiere gehad het.
Moerdijk het ’n spesiale hond geteel deur ’n skaaphond en ’n Rhodesiese terriër te teel. Hy wou ’n perfekte kombinasie kry van ’n slim, sterk hond wat lief is vir kinders, maar ewe vreesloos met leeus en misdadigers kon afreken.

Die stories en herinneringe oor hul geliefde troeteldiere is onlosmaaklik deel van die verhale van die Voortrekkers, en Bloedrivier se personeel is opgewonde om ’n nuwe hoofstuk saam met hul nuwe viervoetfamilielid te kan skryf.