Mediaverklaring

14 Oktober 2023

VTM die sleutelpunt van nasionale massapatrollie

 

Agt AfriForum-buurtwagte en omtrent 120 veiligheidstruktuurlede van AfriForum se noordelike streek het Vrydagaand (13 Oktober) by die Voortrekkermonument byeengekom vir die derde nasionale massapatrollie van AfriForum Gemeenskapsveiligheid.

Buurt- en plaaswagte landswyd het aan die geleentheid bygewoon, terwyl die Voortrekkermonument as skakelpunt en beheerkontrole gedien het. Regstreekse onderhoude en opdaterings het ook van die Voortrekkermonumentterrein af plaasgevind.

Die Voortrekkermonument het in groen vertoon om plaasaanvalslagoffers te herdenk.

“Ons gebruik die kleur groen om plaasaanvalslagoffers te herdenk. Groen is die kleur van hoop en ’n nuwe begin en ons doen juis hierdie aksies om hoop te skep. Ons hoef nie mismoedig te wees oor die toestand van die land nie. Die toekoms is in ons eie hande en dit sluit ons veiligheid in.”

So sê Jacques Broodryk, woordvoerder van AfriForum Gemeenskapsveiligheid.

“Die Voortrekkermonument is al vir dekades ’n simbool wat Afrikaners herinner aan wat hul voorouers deurgemaak het, die goeie en die slegte. Net so moet ons ook onthou dat alhoewel dinge dalk tans uitdagend is, sal dit ook verander en ons moet nie moed verloor nie,” sê Broodryk.

’n Demonstrasie is gedoen van die organisasie se nasionale monitering en opsporingsvermoëns wat met behulp van AfriForum se hommeltuie gebied word. Een hommeltuig het die Voortrekkermonument se gronde ook gepatrolleer en twee ander hommeltuie is op ander plekke in die land gebruik.

Die Voortrekkermonument se Wenkommando en sekuriteitspan het saam met AfriForum Gemeenskapsveiligheid die Voortrekkermonument se terrein gepatrolleer met honde en ’n hommeltuig.

“Dit is lekker dat die gemeenskap van Pretoria en Gauteng ook die veiligheid van die monument as ’n ernstige saak sien. Die samewerking is ongelooflik,” so sê Henk Maree, bedryfshoof by die Voortrekkermonument.

“Dit is lekker om die weet dat die Voortrekkermonument ’n baken van hoop is en dat almal kan sien hoe belangrik dit is om veiligheid in jou omgewing en by die monument toe te pas. Dit is goed om bewusmaking van bewaring te skep. Ons is trots om deel te kan wees van die veiligheid van ons mense.” So sê Danie Dreyer, sekuriteitshoof van die Voortrekkermonument.

AfriForum het 168 buurt- en plaaswagte en nagenoeg 11 000 opgeleide vrywilligers landwyd.