Die Voortrekkermonument (VTM) het onlangs ’n projek aangepak om nuwe waghonde op die terrein te kry.
Op 17 Maart het die VTM die eerste keer uitgereik na die publiek om hulle by te staan met skenkings van jong, gesonde honde en na skaars ’n week het talle mense reeds ingespring en gesorg dat 14 nuwe honde op die monumentterrein gehuisves sal word.
Die eerste van dié honde het vandeesweek amptelik by die terrein aangekom en is reeds tuis by sy nuwe familie; ’n Anatoliese herdershond, Faan.
Henk Marais, bedryfshoof van die Voortrekkermonument, sê hy is baie dankbaar vir hierdie skenkings en trots om te sien dat Afrikaners steeds hul moue oprol om hul kulturele erfenis uit te bou en te bewaar.
“Die inkoop van die gemeenskap by die VTM is van onskatbare waarde. Hierdie projek wat ons geloods het, is weereens ’n bewys van hoe die gemeenskap wil help en wíl betrokke raak by die bewaring van ons erfenis en ons erfenisterreine,” het hy gesê.
“Ons is baie dankbaar vir elkeen wat aan ons ’n hond geskenk het.”
Die idee vir hierdie inisiatief het gespruit uit staaltjies van die verlede en die vertellings van honde wat die Voortrekkers tydens die Groot Trek bygestaan het.
In Louis Tregardt se dagboek byvoorbeeld skryf hy van ’n hond wat ’n rietbok kon plattrek en in Susanna Smit se dagboekinskrywings verwys sy na ’n geval waar blaffende honde hul trekgeselskap vroegtydig kon waarsku van ’n naderende Zoeloe-aanval.
Die VTM stel die veiligheid van hul besoekers hoog op prys en daarom het dié erfenisterrein besluit om vanjaar hul sekuriteit op te skerp deur die aanwend van veldfietse én honde.
Wilmari van Wyk, wat self vier Duitse herdershonde geskenk het, sê dit is vir haar belangrik om terug te ploeg in die gemeenskap en by die monument en daarom het sy besluit om dié skenking te maak.
“Ek het besluit om honde te skenk, nie net omdat ek besef hoe ’n groot uitgawe dit kan wees nie, maar omdat dit belangrik is vir my om my deel te doen om ons monumente en ons erfenis te beskerm,” het sy gesê.
“Die werk wat die VTM doen, is vir ons almal van belang, so om te kan teruggee aan die monument, al is dit ook hoe klein, is baie belangrik.”
Vier boerboele, twee beeshonde, twee langbeen-foksterriërs en vier Duitse herdershonde gaan ook eersdaags hul plekke by die VTM inneem.