Mediaverklaring

10 Desember 2023

“Op die plaas” g’n amateurtoneelstuk

 

“Kostelik.”

“Verskriklik goed geskryf.”

“Skreeusnaaks.”

“Heeltemal iets anders.”

Dit is net van die terugvoer wat Carel Boshoff en Frans de Klerk ontvang het vir hul tweemanstuk Op die plaas toneel.

Carel Boshoff is ’n 23-jarige skrywer-akteur van die Noord-Kaap wat daarin geslaag het om met sy talent hierdie toneelstuk by die Voortrekkermonument op die planke te bring.

Elke kyker is dit eens dat dié teaterproduksie van topgehalte is. Alhoewel die toneelstuk as ’n komedie geadverteer word, sal ’n gesoute teaterganger, resensent, letterkundige of dramaturg ’n referaat kan skryf oor die metatekstualiteit en teatertegnieke wat op meesterlike wyses aangewend word.

“Ek was lus om iets te skryf wat ons toelaat om pret te hê met die gehoor, die ‘vierde muur te breek’ soos dit soms genoem word, op ’n manier wat dit nie die gehoor se inlewing in die toneel, of die karakters se geloofwaardigheid breek nie,” sê Boshoff.

Hierdie komedie handel oor Francois en Thomas, twee neefs, wat ’n plan moet maak om hul plaas te red. Met een ’n stadsjapie en een ’n gebore boer dink hulle lawwe planne uit wat jou in jou mou sal laat giggel.

“Mense móét hierdie toneelstuk kom kyk,” sê Lieandri Ackermann. “Hulle weet nie wat hulle misloop nie!”

Boshoff hoop ook mense voel agterna dat Afrikaans net so snaaks, vermaaklik en aangrypend kan wees soos enige ander taal op aarde.

Op die plaas wys die hele week by die Voortrekkermonument as deel van die Gelofteweek-feesvieringe saam met ander tonele, soos Omwenteling, Liewe Heksie en Van Bloedrivier tot Bosoorlog.

Kaartjies vir Gelofteweek kan op die Voortrekkermonumentterrein of aanlyn gekoop word. Sien die volledige program vir Gelofteweek op die Voortrekkermonument se webwerf: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.

Op die 16de Desember maak die Voortrekkermonument reg om duisende mense vir Geloftedag te ontvang. Dié dag kan heeltemal gratis bygewoon word. Registreer jou plek hier om jou gratis sangboekie te kry: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/#registreer.

Is jy een van die 185 000 Afrikaners wat nog Geloftedag vier? Registreer jou plek hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/#vtm185