Mediaverklaring

29 September 2023

Soldate sit die “mag” in weermag by die Voortrekkermonument

 

Vandeesweek het die Suid-Afrikaanse nasionale weermag die Voortrekkermonumentterrein gekies om die staal van aspirantsoldate te toets.

Dié dapper troepe het die bulte op die monument se terrein trotseer en die amfiteater se trappe met rugsak en al aangedurf.

Majoor WU Baloyi vertel dat die weermag nog altyd die Voortrekkermonument se terrein gebruik het vir opleiding en keuringsprosesse. Die weermag het van 2017 af ander terreine uitgetoets, maar vanjaar is hulle weer terug by die Voortrekkermonument.

“Ek is bly ons is terug hier, ek weet nie hoekom daar ooit besluit is om te skuif nie. Hierdie terrein is ideaal met al sy bulte, op- en afdraandes,” sê Baloyi.

Danie Dreyer, sekuriteitshoof by die Voortrekkermonument, sê hy is ook dankbaar dat die weermag van die terrein gebruik maak. “Dit is goed vir sigbaarheid en ons is baie bly dat ons ’n area kan bied waar mense kan hardloop.”

Die soldate het 4.3 kilometer gehardloop. In die eerste rondte het hulle met aanvalsgewere die amfiteater se trappe uitgehol, om die pad, terug na die beginpunt. In rondte twee het hulle dieselfde roete gehardloop, maar hierdie keer met ’n swaar sandsak en rondte drie met ’n motorvoertuigband. Dit na ’n strawwe oefening van 8 km die oggend.

Reg langs die beginpunt staan daar ’n klok. Sou die soldaat besluit om in te gee, kan hy of sy die klok lui en val dan onmiddellik uit die program.

“Ons soek soldate wat ook innerlik sterk is, daarom is die klok hier om hulle in die versoeking te lei,” sê Baloyi. Die soldate het egter die toets deurstaan en niemand het nie klok gelui nie.

Die Voortrekkermonument is dankbaar om die Kultuurtuiste aan die weermag beskikbaar te stel, sodat nie net ons erfenis beskerm kan word nie, maar ook ons land. Word ’n vriend van die Voortrekkermonument om te help ’n verskil maak: https://vtm.org.za/ondersteun/.