Die Voortrekkermonument is opnuut besig om sy plek in die hart van Afrikaners te sement – nie net as historiese baken nie, maar as ’n lewendige, bruisende kultuursentrum vir oud en jonk. ’n Tuiste waar erfenis en toekomshoop hande vat en onbeskaamd gevier word.
Ná ’n tydperk van finansiële druk tydens en ná die Covid-19-pandemie, is die Monument op koers om nie net ’n fase van stabilisering te betree nie, maar een van opwindende groei. “Jy, as lid van hierdie trotse Afrikanergemeenskap, is ’n onmisbare deel van dié pad vorentoe.”
Dít was die boodskap van dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, tydens die Voortrekkermonument en Natuurreservaat, en Erfenisstigting (ES) se algemene jaarvergadering wat vroeër vandeesmaand by die Monument gehou is.
Van oorleef tot blom
Langner het verwys na die VTM se omdraaistrategie van vyf jaar wat in 2021 afgeskop het, en die wonderlike welslae wat reeds bereik is. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die toenemende getal besoekers op Geloftedag. Op 16 Desember verlede jaar het ’n rekordgetal van 35 000 mense dié besonderse dag by die Monument gedenk.
Volgens hom is die feit dat die Monument die topposisie op Tripadvisor beklee as voorkeurbestemming vir internasionale besoekers in Gauteng, nóg ’n veer in die Kultuurtuiste se hoed. “Die plaaslike besoekersmark toon stewige groei, terwyl die Afrikaner se besonderse verhaal ook al meer internasionale besoekers boei.
“Ons ontvang bykans weekliks besoeke van buitelandse ambassades en is ongelooflik opgewonde oor dié groeipad. Daar is hernieude hoop, ’n rigtingvaste visie, en aansteeklike energie by die Kultuurtuiste,” sê Langner.
Van besoek tot beleef
Volgens Langner is dit insiggewend om te sien hoe toerisme-tendense oor die afgelope paar jaar verander het. “Waar transaksionele toerisme voorheen voorrang geniet het – iemand koop ’n kaartjie, besoek die Monument en vertrek, staan verhoudingstoerisme nou op die voorgrond.
“Besoekers wil erfenis en geskiedenis aktief beleef en daarom is ons fokus baie skerp ingestel op die skep van ’n unieke wêreldklaservaring. Gaste wil kuier, is al meer aktief op sosiale media, teken in op ons nuusbriewe. Mense wíl behoort en dit is presies wat ons bied. ’n Tuiskomplek waar jy, ongeag jou ouderdom, jou wortels kan herontdek en kulturele selfvertroue kan bou,” sê Langner.
Langner vertel opgewonde hoe die Kultuurtuiste van slegs twee winssentrums in 2019 gegroei het tot ’n geoliede enjinkamer met meer as 50 ekonomiese enjins. Dit sluit in ’n Museumteater, ’n ontsnapkamer wat binnekort open, ’n kunsgalery en buiteluggimnasium, asook nagtoere, buffetetes, markte, musiekfeeste, restaurante en ’n groeiende groep Vriende van die Voortrekkermonument wat maandeliks tot die bewaring en uitbou van die lowergroen terrein bydra.
Die mense se Monument
“Die Monument behoort aan die mense, aan my en jou. ’n Betrokke gemeenskap wat eienaarskap van hul erfenis neem, is onontbeerlik. Dít is wat ons vorentoe neem en ons groei aanvuur. Hierdie is nie net ’n plek om na geskiedenis te kyk nie — dit is ’n plek waar jy dit kan proe, voel, ruik, sien en lééf,” sê hy.
Volgens hom is Afrikaners bouers, dromers en draers van kultuur. “Die Monument en Natuurreservaat is ons kollektiewe nalatenskap, maar ook ons kollektiewe verantwoordelikheid. Die ‘Gee ons krag’-projek wat vroeër vanjaar van stapel gestuur is, is ’n sprekende voorbeeld van omgee, behoort en bou. Dit is danksy toekomsbouers se bydraes wat ons droom van ’n sonkragstelsel uiteindelik bewaarheid sal word.
“Nou is die tyd om terug te keer, om te ondersteun, om weer ’n gemeenskapslaer rondom hierdie baken van volharding te vorm. Sluit aan as ’n Vriend van die Monument, borg ’n projek, bring jou kinders, kom kuier. Jou teenwoordigheid is meer as net ’n kaartjie. Dit is ’n roepstem wat in die volgende geslag gaan eggo: Ek gee om. Ek behoort. Ek bou saam.
“Terwyl ons die verhale van die verlede vier, is die Monument van môre in my en jou hande,” het Langner gesê.