Gister op 27 Februarie, op die herdenking van die Slag van Majuba, het oud en jonk saamgedrom by Buffelsfontein Beesboerdery om ’n gedenklesing oor dié veldslag, aangebied deur die gewilde sanger Pieter Smith, by te woon.

Die unieke gedenklesing is aangebied in samewerking met die Voortrekkermonument (VTM) wat spesiaal voorwerpe uit hul museumstoor by die geleentheid uitgestal het.

Onder die voorwerpe op uitstalling was ’n bandelier, ’n hoed van die Zuid-Afrikaansche Republiek, ’n Britse vlag en Vierkleur, pyp, perdeskoene, ’n tonteldoos wat dateer uit die laat 1800’s en ’n replika Krugermunt wat gemunt is om die Majuba-eeufees in 1980 te herdenk.

Die Voortrekkermonument het ook ’n 1880-Westley Richards (.303 hefboomaksie)-geweer wat deel uitmaak van hul museumversameling. Hoewel dié geweer nie deel kon wees van die uitstalling nie, was daar wel ’n foto van die geweer in die uitstalling om die prentjie van die veldslag se geskiedenis meer in te kleur.

Smit, wat wydbekend is vir sy liefde vir die Afrikanergeskiedenis, het vertel dat dit vir hom baie spesiaal was om voorwerpe, wat dateer uit die Eerste Vryheidsoorlog, waar Majuba deel van uitmaak, te kon sien.

“Dit is werklik besonders spesiaal om hierdie voorwerpe van naderby te kon aanskou,” sê hy.

“Voorwerpe soos hierdie vlae en bandelier is goed wat mens nie altyd onder oë kry nie en om dit te kan sien, maak die geskiedenis meer lewendig.”

Hy het verder gesê hy is baie opgewonde dat die VTM en Buffelsfontein hande gevat het om hierdie geskiedenis meer toeganklik te maak vir mense van alle ouderdomme.

“Ek is natuurlik baie gemakliker met ’n kitaar in my hand as agter die geskiedenisboeke, maar dit is hoekom ek dink dae soos hierdie so spesiaal is. Ons is almal lief vir ons taal, kultuur en geskiedenis en nou kan ons ook saam meer leer oor ons geskiedenis en die helde uit ons verlede.”

Die Slag van Majuba wat op 27 Februarie 1881 plaasgevind het, was die laaste van vier militêre botsings van die Eerste Vryheidsoorlog (Desember 1880 tot Maart 1881).

Die gedenklesing was nie ’n tipiese akademiese vertelling nie, maar ’n saamkuier-en-leer-geleentheid vir oud en jonk en almal was dit eens dat dit ’n baie spesiale ervaring was.

“Ek is baie dankbaar vir Meyer le Roux (Stigter van Buffelsfontein) en die VTM dat hulle vir ons die platform gee om ’n dag soos dié te gedenk en saam, oud en jonk, ons kultuur te kan vier.”

Henk Maree, van die Voortrekkermonument, het ook die geleentheid bygewoon en sê hy is baie opgewonde om te sien hoeveel jong mense steeds geleenthede soos hierdie ondersteun.

“By die VTM vertel en vier ons elke dag die Afrikaner se geskiedenis, so om buite die monument, hier by Buffelsfontein te kan sien hoeveel jongmense nog ’n liefde vir die Afrikaner se ryk kulturele erfenis het, is werklik ’n riem onder die hart. Ons sien uit om in die toekoms weer saam met Buffelsfontein te werk.”

Die gaste het na Smit se vertelling ook die geleentheid gekry om hul kennis op die proef te stel met ’n lekker vasvrakompetisie.

Buffelsfontein en die Voortrekkermonument beplan ook later vanjaar ’n gedenklesing oor die Slag van Italeni. Hou gerus hul sosiale media dop vir meer inligting.