’n Kosbare item is in die veilige hande van die Voortrekkermonument (VTM) toevertrou deur ’n ywerige versamelaar, Ben van Niekerk.

CJ Langenhoven het die Stem van Suid-Afrika geskryf. Met die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938 het Langenhoven se vrou, Lenie, na wie hy in sy skryfwerk verwys het as “Vroutjie”, op ’n afskrif van Die Stem van Suid-Afrika haar naam onderteken.

Die skrywe lees: “Aan die Ossewa Trek. Van Vroutjie. Oudtshoorn 5/9/1938”.

Ben van Niekerk is lief vir geskiedenis en versamel graag historiese voorwerpe. Hy het een van sy kosbaarste items aan die Voortrekkermonument oorhandig, sodat dit met die wêreld gedeel kan word.

“Ek het ’n belangstelling in geskiedenis en het die vak op skool gehad. Toe my jongste dogter, nou 17 jaar gelede, gebore is, het ek verby die Heldeakker gery en onthou my ouma het vertel dat ons afstammelinge is van generaal Schoeman. Ek het die graf gekry en begin met stamboom navorsing,” sê Van Niekerk.

Só het Van Niekerk se jarelange geskiedenisnavorsing begin. Hy is in besit van vele items met historiese waarde en is van die voorneme om nog items uit sy versameling aan die Voortrekkermonument te skenk.

Lizette Jansen, bestuurder van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument, verduidelik dat hierdie skenking van waarde is vir die Voortrekkermonument, juis omdat die 1938-Ossewatrek by die Voortrekkermonument met die hoeksteenlegging geëindig het.

“Dit is ’n kosbare toevoeging tot ons kultuurtuiste en die Vrijheidsreis-uitstalling wat binne die monument is,” sê Jansen.

Tesame met die brief is ook ’n foto van CJ Langenhoven geraam, wat uit ’n ou Huisgenoot geknip en veilig bewaar is.

Van Niekerk het die Voortrekkermonument gekies as die veilige tuiste vir hierdie skat, omdat hy oortuig is dat die item veilig bewaar en ten toon gestel sal word.

Besoek gerus die Voortrekkermonument en indien jy onlangs hier was, kom besoek weer. Die Voortrekkermonument ontvang dikwels nuwe voorwerpe, wat die verhaal van die uitstalling inkleur.

https://vtm.org.za/