“Dit is wonderlik om te sien dat Suid-Afrikaners na die Voortrekkermonument toe kom en nog wil leer en weet van kultuur en geskiedenis.”
So sê Christiaan Jordaan, toerismebestuurder by die Voortrekkermonument.
764 kinders het die afgelope kwartaal die Voortrekkermonument besoek. Hierdie getal sluit ook die kinders in wat ingeskryf het vir Maart se vakansieprogram.
Uit die 764 kinders was daar agt skole en vyf toergroepe waarvan twee internasionale groepe is. Die getal sluit nie dag-tot-dag-jeugbesoekers aan die monument in nie.
Die Voortrekkermonument het ’n spesiale aanbod en program vir skool- of toergroepe wat aktiwiteite insluit soos ’n broodbak-demonstrasie, ’n begeleide toer deur die monument, kanonskoot- en sweepslaan-demonstrasie, plaaswerfaktiwiteite soos om die diere te voer en vele meer. Om die museumteater te besoek, is ook ’n gewilde aktiwiteit.
“Ons wil skole uitnooi om by die Voortrekkermonument te leer, te waardeer en te beleef,” sê Jordaan.
Die terugvoer wat die monument kry van die leerlinge is keer op keer positief en inspirerend.
“Ek is al mal oor die Voortrekkermonument. Dit is baie lekker hier,” vertel Amelia Poppe (16) laggend. “Dit (die monument) is beeldskoon.”
Vir Stan Bill (16) is die Voortrekkermonument sover die hoogtepunt van sy tyd in Suid-Afrika. Suid-Afrika se skoonheid staan vir hom uit. “Suid-Afrika is ’n pragtige land,” sê hy.
“Een van die dinge wat vir my uitgestaan het van die toer, is die Voortrekkers se geloof deur hulle reis. Die Gelofte is iets wat ek saam met my huis toe gaan vat en is beslis iets waaroor ek wil nadink,” sê Isaac Miller.
“Dit is my heel eerste keer by die monument en ek geniet dit baie. Ek wil definitief weer terugkom en my familie bring,” sê Pieter Louw (11).
“Dit is baie lekker hier by die monument. Ek en my gesin kom elke jaar op die 16de (Desember). As ek weer kom, wil ek graag perdry,” sê Amor Prins (12).
Dit is vir die Voortrekkermonument ’n eer en ’n voorreg om soveel leerlinge die kwartaal te kon ontvang en meer te leer oor ons erfenis. Jou vriendskap kan ons help om jou erfenis te bewaar: www.vtm.org.za/donasies/