Mediaverklaring

19 Oktober 2023

Beste Hoërskool-simfonieorkes in die land tree op by die Voortrekkermonument

 

Op 19 Oktober 2023 het die simfonieorkes van Hoërskool Waterkloof hul Gala-aand-afsluitingsfunksie by die Voortrekkermonument kom hou. Tydens hierdie geleentheid is nuwe orkesleiers onder die leerlinge gekies en is van die matrieks afskeid geneem.

“Ons was nog altyd baie lus om Voortrekkermonument toe te kom. Ek was baie beïndruk met die venue, veral die klank in die Senotaafsaal,” sê Jo Ferreira, onderwyseres en bestuurder van die konsertorkes.

Die leerlinge het beslis verras met ’n uitstekende uitvoering. Dit was veral ongelooflik, aangesien ongeveer die helfte van die orkes uit nuwe lede bestaan.

“In 2021 het ons met die omdraaistrategie gesê dat die monument ’n kultuurtuiste moet word, ’n plek waar ons ’n lewendige kultuur kan beoefen, nie net die geskiedenis sien nie, maar die beste van ons kuns, ons drama en ons musiek kan ervaar. Vanaand se optrede van Hoërskool Waterkloof is in die beste tradisie van hierdie ideaal. Dit is ’n uitnemende orkes wat bevestig dat die monument al meer en meer ’n kultuurtuiste vir almal word.”

So sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Hierdie konsertorkes het aan die Simfonia-kompetisie in George deelgeneem. Hulle het ’n tweede plek in die land behaal. ’n Streekskoor in die Noord-Kaap het die kompetisie gewen, wat beteken dat Hoërskool Waterkloof van al die skole-orkeste die beste konsertorkes in die land is.

Die Voortrekkermonument is dankbaar dat skole van ons kultuuraanbod gebruik maak en help bevorder. Sluit aan as ’n vriend van die Voortrekkermonument om jou kultuurerfenis te help beskerm: https://vtm.org.za/ondersteun/.