Die Voortrekkermonument (VTM) het die afgelope naweek gasheer gespeel vir een van die lekkerste boeremusiekmakieties van die jaar, met hordes mense wat hiér kom kuier het om ’n aand van samesyn en goeie musiek te geniet.
Die Tradisionele Boeremusiekklub van Suid-Afrika (TBKSA) en VTM het vanjaar besluit om ’n lekker Boeremusiek-opskop aan te bied saam met van die land se voorste Boereorkeste; Die Voorlopers Boereorkes, Diamant 4 en Oshoek.
Adamarie Bredenhan van die TBKSA sê dit was vir haar en die klublede ’n baie natuurlike besluit om vanjaar die eerste opskop by die VTM aan te bied.
“Boeremusiek en die Voortrekkermonument is so eg Afrikaans en eie aan ons kultuur soos kan kom, daarom was daar ’n absolute eensgesindheid onder ons klublede dat ons vanjaar die dans hier wil aanbied.”
In die verlede het verskeie orkeste van die TBKSA tydens die VTM se Gelofteweek en Erfenisfees opgetree, wat gesorg het vir groot opwinding.
“Ons het lede van regoor die land, so dit is baie lekker vir ons om mense van oraloor hier te kan hê. Ons het orkeste van die Vaaldriehoek af tot so ver as die Kaap.”
Boeremusiek het ’n baie ryk geskiedenis en dit is nie vreemd om orkeslede met ’n saag en ’n strykstok in die hand te sien musiek maak nie, maar by die Voortrekkermonument was besoekers bederf met ’n besonderse unieke ervaring toe Marinda Venter, een van die musikante, die verhoog betree het.
Venter speel die teekas, of die teekasbas soos sommiges daarna verwys; ’n handgemaakte instrument wat die plek van ’n kontrabas in ’n boereorkes opneem.
Venter vertel dat die geskiedenis van hierdie instrument net so uniek is soos die instrument self:
“Die teepkas het vroeër jare ontstaan toe spesifieke instrumente minder algemeen beskikbaar was. Die Boere het toe sommer hul eie basviool of kontrabas gebou uit die houtkaste waarin hulle teevoorraad aangekoop het,” vertel sy.
Teekaste is uit ‘n teekas en ‘n besemstok vervaardig met net een snaar wat stywer en slapper getrek is om die nodige toonhoogte te verkry.
“Myne is deur oom Daantjie Labuschagne, ’n ware musieklegende, gemaak. Ek speel hom nou al 12 jaar en dis vir my regtig lekker om die verhoog met meer as een orkes te kan deel hiermee.”
Henk Maree, van die Voortrekkermonument, sê dit is vir die monument ’n eer om dié geleentheid saam met die TBKSA te kon aanbied.
“By die VTM vier ons elke dag ons kultuur. Al ons feeste, funksies en markte is ’n geleentheid om bewusmaking van ons ryk kulturele erfenis te skep en daarom is ons trots om deel te kan hê aan hierdie funksie.”
Jou vriendskap help ons om ons erfenis te bewaar: www.vtm.org.za/donasies/