Die Voortrekkermonument (VTM) vertel al vir jare die Afrikaners se verhaal met verskeie uitstallings wat oor die geskiedenis heen ons erfenis vasvang. Vanjaar word dié unieke erfeniservaring nóg meer uitgebrei met ’n geskiedkundige kunsuitstalling wat in die VTM tuiste gekry het.

Die Voortrekkermonument se Senotaafsaal is verlede jaar tydens Gelofteweek vir die eerste keer in die geskiedenis omskep in ’n kunsgalery waarin die werk van ons land se topkunstenaars gesien kon word.

Vanjaar het die VTM besluit om ’n permanente tuiste te skep vir hierdie kunstenaars en só die uitstekende plaaslike kuns aan ’n internasionale gehoor bloot te stel.

Kobus Möller, een van die kunstenaars wie se kuns hiér by die Kundramus-galery uitgestal word, het vertel dat hy baie uitsien daarna dat eg-Suid-Afrikaanse kuns ook nou kan koning kraai by die VTM.

“Tydens die Covid-19-pandemie het baie kunstenaars swaargekry en was dit baie moeilik om uitstallings te hou, so ons is besonders dankbaar vir die VTM en dr. Danie Langner wat nie gehuiwer het om ons hier te akkommodeer nie,” het hy vertel.

Elsa Cornelissen, Lute Vink, Dawie Fourie, Nic Grobler, Sanette Boshoff, Gerrit Pitout, Pieter Wetzel en Piet Smit se werk word ook hiér uitgestal.

Die galerybestuurder, Marize Möller, het op haar beurt gesê sy is besonders opgewonde oor hierdie uitstalling omdat dit Suid-Afrikaanse kuns aan ’n groter gehoor blootstel.

“Hierdie nuwe galery in die VTM bied ’n fantastiese geleentheid vir ons kunstenaars om hul kuns aan al die VTM se internasionale besoekers te kan blootstel. Ons plaaslike kuns is van uitstaande gehalte en dit maak mens baie trots om te weet dat hierdie uitnemendheid nou met die wêreld gedeel kan word,” het sy vertel.

Sy het verder vertel dat die Kundramus- (wat ’n samevoeging is van die woorde “kuns, drama en musiek”) galery ontstaan het uit ’n behoefte vir kunstenaars om hul kuns te kan uitstal, daarom is die feit dat dit juis in die VTM, die Suid-Afrikaners se Kultuurtuiste, gestalte kon kry besonders betekenisvol.

“Wanneer jy kyk na die geskiedenis en die pad wat die Voortrekkers gestap het, was dit nooit maklik nie, maar dit is juis hul opofferings wat vir die Afrikaner die lewe gebou het wat ons vandag het,” het sy uitgebrei.

“Ek dink mens kan amper dieselfde na hierdie kunstenaars kyk wat pioniers in hul eie reg is. Dit is met hulle deursettingsvermoë wat Suid-Afrikaanse kunste ontwikkel is tot wat dit vandag is.”

𝐖𝐚𝐧𝐧𝐞𝐞𝐫 𝐦𝐞𝐧𝐬 𝐭𝐞𝐫𝐮𝐠𝐠𝐚𝐚𝐧 𝐢𝐧 𝐭𝐲𝐝 𝐞𝐧 𝐣𝐲 𝐤𝐲𝐤 𝐧𝐚 𝐨𝐧𝐬 𝐀𝐟𝐫𝐢𝐤𝐚𝐚𝐧𝐬𝐞 𝐤𝐮𝐧𝐬𝐠𝐞𝐬𝐤𝐢𝐞𝐝𝐞𝐧𝐢𝐬, 𝐦𝐞𝐭 𝐟𝐨𝐫𝐦𝐢𝐝𝐚𝐛𝐞𝐥𝐞 𝐤𝐮𝐧𝐬𝐭𝐞𝐧𝐚𝐚𝐫𝐬 𝐬𝐨𝐨𝐬 𝐌𝐚𝐠𝐠𝐢𝐞 𝐋𝐚𝐮𝐛𝐬𝐞𝐫, 𝐁𝐞𝐭𝐭𝐢𝐞 𝐂𝐢𝐥𝐥𝐢𝐞𝐫s-𝐁𝐚𝐫𝐧𝐚𝐫𝐝, 𝐏𝐢𝐞𝐫𝐧𝐞𝐞𝐟, 𝐂𝐨𝐞𝐫𝐭 𝐒𝐭𝐞𝐲𝐧𝐛𝐞𝐫𝐠 𝐞𝐧 𝐄𝐥𝐢𝐳𝐞 𝐉𝐨𝐡𝐧𝐬𝐞𝐧, 𝐰𝐨𝐫𝐝 𝐝𝐢𝐭 𝐧𝐞𝐭 𝐰𝐞𝐞𝐫 𝐝𝐮𝐢𝐝𝐞𝐥𝐢𝐤 𝐝𝐚𝐭 𝐤𝐮𝐧𝐬 𝐚𝐥 𝐯𝐢𝐫 𝐣𝐚𝐫𝐞 𝐝𝐢𝐞 𝐬𝐩𝐢𝐞𝐞̈𝐥𝐛𝐞𝐞𝐥𝐝 𝐯𝐚𝐧 𝐝𝐢𝐞 𝐀𝐟𝐫𝐢𝐤𝐚𝐧𝐞𝐫 𝐬𝐞 𝐠𝐞𝐬𝐤𝐢𝐞𝐝𝐞𝐧𝐢𝐬 𝐢𝐬 𝐞𝐧 𝐝𝐚𝐚𝐫𝐨𝐦 𝐢𝐬 𝐝𝐢𝐞́ 𝐧𝐮𝐰𝐞 𝐕𝐓𝐌-𝐠𝐚𝐥𝐞𝐫𝐲 𝐢𝐞𝐭𝐬 𝐰𝐚𝐭 𝐚𝐥𝐦𝐚𝐥 𝐦𝐨𝐞𝐭 𝐬𝐢𝐞𝐧.