Mediaverklaring

10 Oktober 2023

Paul Kruger 198 jaar na sy geboortedag vereer met beeld in Trekroetetuin

Het jy al ’n beeld van Paul Kruger gesien toe hy op 14-jarige ouderdom ’n leeu gejag het?

Nee jy sou nie, want dié beeld is die enigste van sy soort wat vandag in die Historiese Trekroetetuin by die Voortrekkermonument onthul is.

Op 10 Oktober, 198 jaar na president Paul Kruger se geboortedag, is hy vereer met dié oorspronklike beeld.

Die geleentheid is bygewoon deur drie nasate van Kruger, waarvan Stefanus Johannes Paulus Krüger (14) die model vir die beeld was. Jaco van Niekerk is die beeldhouer van hierdie oorspronklike bronsbeeld waar hy die 14-jarige Kruger uitbeeld waar hy ’n leeu skiet.

Die storie loop dat Paul Kruger as ’n 14-jarige seun die perde moes oppas tydens ’n leeujagekspedisie op die Groot Trek. Die leeu het op jong Kruger afgestorm gekom en hy het die dier met een skoot geskiet.

Die Historiese Trekroetetuin by die Voortrekkermonument beeld die trekroetes van die Groot Trek-leiers uit. Paul Kruger was as negejarige seun by die Slag van Vegkop. Hy is na die eerste Vryheidsoorlog vier keer as staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) ingesweer.

“Al van kindsbeen af het Paul Kruger gewys watter dapper man hy is. Vandag herken ons Paul Kruger op sy 198ste verjaarsdag om erkenning te gee aan die diep voetspore wat hierdie vooruitstrewende man gelos het op ons Afrikanerlandskap.”

Só sê Barry Müller, kultuurkoördineerder van kultuurnetwerke in die Noordelike provinsies. Müller was ook die organiseerder van die projek.

Die beeld is deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) aan die Voortrekkermonument geborg.

“Paul Kruger is ’n groot legende. Hy is alom bekend en sy beelde pryk op verskillende plekke in die land. Hierdie beeld van hom is spesiaal, want dit is werklik uniek en oorspronklik en is nog nie voorheen gedoen nie,” sê Van Niekerk.

“Dit is vir my ’n groot voorreg om die model te kon wees vir hierdie beeld en ek is bly daar is plekke soos die Voortrekkermonument wat ons erfenis bewaar. Ek is baie trots om ’n nasaat van Paul Kruger te wees en om te dink dat hy so oud soos ek was toe hy die leeu geskiet het,” sê Paulus Krüger.

Die Voortrekkermonument beywer hom daarvoor om ons erfenis en kultuur vir die nageslag te bewaar, maar om dit ook toeganklik te maak vir die publiek. Daar is al verskeie beelde in die Trekroetetuin opgerig. Word ’n vriend van die Voortrekkermonument en help ons om ons erfenis te beskerm: https://vtm.org.za/ondersteun/.